
Hosted by Olielamp Potgooi · AF

Met Mr. Herman van der LindenIn ’n tyd waar seksuele losbandigheid, drankmisbruik en rebellie onder jongmense normaal geword het, is die stem van ouers dikwels sag of afwesig. Hierdie episode neem ’n eerlike blik op ’n uiters belangrike onderwerp: die verantwoordelikheid van Christelike ouers om hulle kinders in die vrese van die Here groot te maak. Ons ondersoek die verskoning: “Ek was ook jonk,” en vra: “Is dit Bybels?” Wanneer ouers nalaat om op te voed, te tug en te begelei, watter gevolge sien ons – en hoe herstel ons dit? Hierdie gesprek is nie net ‘n aanklag nie, maar ’n oproep tot bekering en hernuwing in die huis.

Met Annemarie Van RensburgAbstrak:Wat is die plek en roeping van die vrou in die kerk van Christus? In hierdie episode gesels ons oor Bybelse riglyne, kerkgemeenskap wees, en die belangrike - maar dikwels ongesiene - rol wat vroue in die gemeente speel. Ons ondersoek ook hoe verskillende tradisies hierdie rol benader, en hoe vroue hul gawes tot diens van die liggaam van Christus kan aanwend.

Met: Ds. Erik van AltenDie GKSA se Algemene Sinode (5 –10 Januarie 2026) het ’n duidelike besluit geneem oor gemeentes wat vroue in die besondere dienste (ouderling en predikant) toelaat. Die Sinode stel dat die nie-onderhouding van sinodebesluite oor VIDA (vrou in die amp) neerkom op self-losmaking van die kerkverband, omdat kerklike binding (KO art. 31) daarmee in gedrang kom. Gemeentes wat vroue as ouderlinge bevestig het, kry ’n jaar om hul besluit terug te trek en dit “met die daad reg te stel” deur losmaking te gee aan die bevestigde vroue; klassisse moet dié gemeentes pastoraal begelei. Indien ’n gemeente ná daardie tyd volhard, moet dit met droefheid gekonstateer word dat die gemeente ongehoorsaam aan Christus is en haarself van die GKSA se kerklike gemeenskap losgemaak het. Indien ’n klassis of streeksinode nie optree nie, kan ’n volgende Algemene Sinode dit doen. Hierdie besluit het wyer reaksie ontlok: ope briewe (vir en teen), intensiewe media-dekking, en vrae oor ekumeniese verhoudings, teologiese opleiding, en die breër getuienis van gereformeerde kerke in Suid-Afrika.

Met: Ds. Erik van AltenIn hierdie gesprek gesels ons met ds. Erik van Alten oor die samewerking tussen die Vrye Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (VGKSA) en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA). Ons delf in die geskiedenis van die samesprekings, die verskille wat deur die jare op die tafel was, en hoe plaaslike gemeentes by die proses betrokke is. Ons vra ook: waar lê die uitdagings, waar sien ons hoopvolle tekens van samewerking, en hoe moet ons as lidmate en gemeentes met die GKSA omgaan? Hierdie opname help ons om die beginsel van ware eenheid in die waarheid te onderskei en prakties toe te pas.

Ds. Marnix BoersemaDie huwelik is meer as net ’n romantiese verbintenis – dit is ’n Godgegewe verbond wat Christus en die kerk weerspieël. In hierdie episode kyk ons na die doel, uitdagings en vreugdes van Bybelse huwelike.

Met Mev. Saskia MeijerSkole vorm wêreldbeskouings. Christelike onderwys wil méér as net akademie aanbied – dit wil harte vorm. In hierdie episode bespreek ons die doel, uitdagings en roeping van Christelike onderwys in ’n pluralistiese samelewing.

Met:Prof. Henk StokerIn ’n wêreld waar geslag nie meer as biologies vasgestel beskou word nie, word Christene toenemend gekonfronteer met vrae oor identiteit, waarheid en liefde. Hierdie episode van Die Olielamp ondersoek die opkoms van transgender-ideologieë en hoe Christene daarop moet reageer – nie net met Bybelse waarheid nie, maar ook met deernis. Ons gesels oor hoe die Skrif oor geslag praat, hoe die kultuur geslag herdefinieer het, en wat dit beteken om as kerk standpunt in te neem, terwyl ons steeds mense met waardigheid en liefde behandel.

Met: Erik van AltenHoe het die Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ontstaan en oor die jare ontwikkel? Ds. Erik van Alten vertel die geskiedenis van die VGKSA: van sy stigting tot sy groei binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ons kyk na die kerk se oorspronklike visie, uitdagings oor die dekades, en hoe sy teologiese standpunte aangepas en gevestig is.

Met Karina IjlstIn die tweede deel van ons gesprek oor die Reformasie fokus ons op die verspreiding van die beweging deur Europa, die rol van konings en politieke magte, en kerklike teenreaksies.Karina Ijlst help ons verstaan hoe die Hervorming verskillende lande beïnvloed het en hoe die Rooms-Katolieke Kerk teruggeveg het met die Teen-Reformasie. Ons kyk ook na watter diepgaande gevolge hierdie tydperk gehad het op taal, kultuur en opvoeding.Ons sluit af met ’n gesprek oor die relevantheid van die Reformasie vir vandag en hoekom ons steeds dankbaar moet wees vir hierdie geestelike hernuwing.

Met Karina IjlstIn hierdie eerste deel van ons gesprek oor die Reformasie delf ons saam met Karina Ijlst in die beginjare van een van die mees invloedryke bewegings in die geskiedenis van die kerk. Ons kyk na die oorsake van die Reformasie, die dapper optrede van Martin Luther, en hoe figure soos Calvyn en Zwingli ’n nuwe teologiese rigting gegee het aan ’n kerk in nood.Ons ondersoek hoe leerstellige verskille misbruik binne in die kerk aan die lig gebring het, asook hoe die Hervorming die pad na ‘n groter toegang tot God se Woord oopgemaak het. Dit is ‘n fassinerende kyk na die begin van ’n tydperk wat die wêreld vir altyd verander het.